Hartswater-man 137 kg ligter en draf nou halfmarathons kaf

Dit was ‘n groot jaar vir AJ van der Walt. Nie net het hy byna die helfte van sy liggaamsgewig verloor sedert hy verlede Oktober met Huisgenoot gesels het nie, hy het ook twee halfmarathons van 21 km elk kafgedraf.

Só het AJ verlede Oktober in Huisgenoot gepryk nadat hy 137 kg verloor het.

Só het AJ verlede Oktober in Huisgenoot gepryk nadat hy 137 kg verloor het.

AJ (32), wat op Hartswater in die Noord-Kaap woon, se gewig wissel deesdae tussen 145 en 147 kg – baie minder as die 282 kg waarop hy die skaal se naald laat stilstaan het toe hy meer as twee jaar gelede begin dieet het.

Deesdae keer mense die jong eiendomsagent, wat 1,96 m lank is en ’n no.16-skoen vol staan, oral voor en vra hom uit oor sy drastiese gedaantewisseling.

Dis hoe AJ gelyk het voor hy die gewig begin afskud het. Foto: Verskaf

Dis hoe AJ gelyk het voor hy die gewig begin afskud het. Foto: Verskaf

Terwyl sy klere se grootte eens 9XXL was, dra hy nou 4XXL.

“Ek bant nog die hele tyd,” sê AJ telefonies aan Huisgenoot. Altesaam het hy al 137 kg verloor en nog is dit einde het niet vir AJ.

Buiten die halfmarathons het AJ onder meer ook deelgeneem aan ’n 50 km-bergfietswedren en ’n 11 km-tydtoets.

IMG_2817
AJ gaan ook een van die dae die ambassadeur wees van die Chantel Rall-stigting, wat ook as die LoveChanty-stigting bekendstaan. Chantel het dié stigting begin nadat sy in 2012 servikale kanker gekry en eindelik ’n histerektomie ondergaan het. Dokters het min hoop gehad, maar Chantel het geweier om die prognose te aanvaar. Sy het onderneem om deel te neem aan die Ystervrou-kompetisie as sy uit die hospitaal sou kom.

Chantel het die stigting begin om bewustheid op te skerp in die multisportarena oor die werklike stryd wat mense met kanker voer en belangriker selfs, dat die stryd gewen kan word.

IMG_2818
’n Moeilike pad het op Chantel gewag, maar eindelik het sy twee jaar later die Ystervrou-kompetisie voltooi. Voor haar dood het sy verskeie byeenkomste en twee Ystervrou-kompetisies voltooi.

Papierwerk word nog afgehandel voor AJ amptelik die ambassadeur sal wees vir die stigting.

Die stigting se slagspreuk is: I am not done. Hierdie frase beteken vir AJ baie. “Dit gaan vir my oor die motivering wat ander mense daaruit put, om vir mense te wys jy kán iets doen (aan jou omstandighede).

I am not done – jy kan voortgaan. Ongeag wat gebeur, kan jy vorentoe beweeg. Baie mense het soveel gewig om te verloor en hulle kán dit doen,” sê hy.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*
*